Moltenopas
Op 'n kaart wat landmeter C. Stretch in 1830 geteken het, kom 'n pad oor die Nieuwveld voor, maar dit was destyds seker nouliks meer as 'n voetpad. Op 2 Sept. 1837 het magistraat Meintjes aan die Koloniale kantoor geskryf dat boere wat belang het by'n pad tot bo-op die berg by Bokkekraal - soos Pieter Jacobs van Slangefontein - voornemens is om self 'n pad te bou teen 'n koste van sowat £350. Hierdie plan is mettertyd uitgevoer, maar die pad was net vir ossewaens en perde geskik.
In die sewentigerjare het die Afdelingsraad besluit om ten ooste daarvan 'n meer geskikte pas te bou en dit na Loxton en ander noordelike dorpe te verleng.
Op 8Maart 1878 het die Courier berig: “Men zegt dat er goede voortgang gemaakt is met den weg van Donkergat naar Rhenosterfontein. Op eerst genoemde plaats is men besig een bandiete statie te bouwen." (Die „statie" was 'n tydelike tronk vir die bandiete-arbeiders.Daarna het dit die plaashuis van Donkergat geword en in later jare tydens 'n oorstroming weggespoel. Rhenos-terfontein is 'n paar myl ten noorde daarvan.)
In Jan. 1880 het die voorsitter van die Afdelingsraad, magistraat Garcia, aan Premier John Charles Molteno (in Claremont) geskryf om te verneem of dit hom sou welgeval as die nuwe bergpas na hom vernoem word.
Molteno het sowat ses plase in die distrik besit en was van 1853 tot 1858 lid van die Dorpsraad. In 'n brief gedagteken 26 Jan. 1880 het hy sy waardering vir die gebaar te kenne gegee en die hoop uitgespreek dat hy die amptelike opening van die pas op 18 Mei 1880 sou kon bywoon. Op daardie datum het die Moltenopas toe die ou wapad ten weste daarvan vervang. Die ou pad is vandag nog hier en daar te sien, veral na 'n sneeu-val.
Die Moltenopas was besonder duur om in stand te hou, want elke reënbui het dit verspoel. In 1883 wou die Afdelingsraad 'n tolhuis aan die voet van die pas oprig, maar hierteen was daar baie beswaar. Toe dit die volgende jaar wel tot stand gekom het, was dit nie juis lonend nie. Van 1 Sept. 1884 tot 31 Jan. 1885 het dit byvoorbeeld slegs £2 4s. 4d. opgelewer. Vir die halfjaar geëindig 31 Des. 1884 was die inkomste £I3 I3s. 10d., terwyl die tolhuise by Meiringspoort en De Jagerspas onderskeidelik £127 10s. 1d. en £15 15s. 5d. opgelewer.
Uittreksel uit: Hooyvlakte - Die verhaal van Beaufort-Wes 1818-1968 deur W.G.H en S. Vivier