Die Oudekloofpas - die deurgang na Tulbaghvallei
Ingang na die Tulbaghvallei
Ons roete begin met twee passe wat vanaf die Wellington-omgewing, verby Gouda, na Tulbagh lei. Die oudste een dateer so vroeg as 1658, net ses jaar na die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap.
Maar waarom was daar so ‘n drang by Van Riebeeck om ‘n pad noordwaarts te vind? Dit was deels om beeste met die Khoi te verruil, en deels om die waarheid uit te vind oor die mitiese plekke soos Rio do Infanta en die groot stad Monomotapa, waarvan hy gelees het.(1)
Maar om noordwaarts van die Kaap te beweeg, moes ‘n mens ‘n formidabele bergversperring oorsteek – hetsy in die ooste, noordooste of noorde. In Maart 1658 het Van Riebeeck Sersant Jan van Harwarden gestuur om ‘n pas oor die “bergreeks van Afrika” te vind, soos Van Riebeeck hierdie indrukwekkende pieke genoem het.
Van Harwarden se groep het van Kaapstad af gereis, via Tygerberg, toe verby Koeberg aan die weskus, verby Riebeek-Kasteel, en het by die Groot Bergrivier uitgekom. Hulle het ‘n paar dae in die Wagenmakersvallei rondgedwaal, waar Wellington nou is.
Hier het verskeie manne aan disenterie gely, en daarom het Van Harwarden die landmeter, Pieter Potter, vooruit gestuur om ‘n pad oor die Oubiqua-berge te vind. Omstreeks 5 Maart 1658 het Pieter Potter toe ‘n pas gekry – en het die eerste wit persoon geword wat die Tulbagh-kom aanskou het. Dit was die Oudekloofpas. In daardie dae is die Tulbaghvallei Roodezandvallei (rooi sand) of Die Land van Waveren genoem.
Dit was ‘n moeilike tog van Kaapstad af. Minstens twee van die groep het gesterf – een van siekte, en een is deur ‘n leeu verskeur. Vyftig jaar later het Goewerneur van der Stel dieselfde pas gebruik om na Tulbagh te reis.
Binnetree in die Tulbaghvallei: Die groen sirkel dui die Oudekloofpas aan, terwyl die pienk sirkel die Nuwekloofpas aandui. {Die pienk gestippelde lyn dui William Burchell se roete in 1811 aan).
Vandag kan die Oudekloofpas nie vir voertuie gebruik word nie. Dit is ‘n lieflike staproete oor die Oubiquaberg; om dit te ervaar, kontak die Oudekloof-wynlandgoed.(2) Die naam “Obiqua” is ‘n belangrike herinnering dat hierdie gebied deur die Khoi mense bewoon is.
Vir omtrent 100 jaar, dus tot die middel 1700’s, was die Oudekloofpas die belangrikste toegangspunt tot die Tulbaghvallei.
Verwysings:
- Hierdie vroeë geskiedenis word beskryf in dr. E.E. Mossop se klassieke boek, Old Cape Highways.
- www.oudekloofwineestate.co.za
Die artikel is 'n uittreksel uit die "The Forgotten Highway - Resource Guide for travels" van die Vergete Grootpad Roete
Dit is punte van belang wat verband hou met hierdie artikel, meestal met GPS-lokasies, sodat jy kan besoek.