Swartbergpas Geskiedenis
Thomas Bain was 'n baie interessante man met 'n verskeidenheid stokperdjies van skets tot plantkundige, maar waarvoor hy bekend is, is die passe wat hy in Suid-Afrika gebou het. Hy het die Swartbergpas amper aan die einde van sy loopbaan gebou, so sy ervaring en kundigheid wys in die bou van die pas. Hoewel Bain die oorspronklike ontwerp vir die regering in 1879 gedoen het, was die eerste bouer Jan Tassie. Hy het in 1881 met bouwerk begin maar na 13 maande was hy bankrot.
In September 1883 neem Thomas Bain die bou werk oor, en voltooi dit in November 1886. Die amptelike opening van die pas was op 10 Januarie 1888.
Die pas is gebou met die gebruik van pikstele, grawe, voorhamers, koevoete, kruiwaens en kruit. Rotse is gebreek deur dit met vuur te verhit en dan met koue water oor te spoel. Rotse is met voorhamers in kleiner stukke gebreek en toe versigtig perfek inmekaar te pas sonder sement. Die droëmuurmetode van konstruksie is gebruik om die indrukwekkende keermure te bou wat die pad teen die steil hellings ondersteun het. ’n Eeu later wonder reisigers steeds oor hierdie prestasie. Aan die suidekant is daar 'n stuk waar die keermuur 2,4 km lank is sonder onderbreking. Die pas is 23,8km.
Die Swartberg Natuurreservaat is groot, omtrent 180 000 hektaar en bied stap roetes, piekniek plekke met mooie uitsigte, 4x4-roetes, voëlkyk, en vele meer.
Bronne:
Fransie Pienaar Museum
Mountain Passes South Africa
Komnick, P. S. (1984). A Colossus of Roads - Thomas Bain. Cape Town: Murray & Roberts/Concor.