Skip to Content

Kameraadskap-kunsprojek

Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer in hulle werk. As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. - Prediker 4:9-10

Kameraadskap is ’n woord wat nie baie gebruik word nie, maar dis iets wat ’n basiese behoefte van menswees is. Ons Karoo en Kontrei is op ’n missie om dit op ’n praktiese manier weer by mense aan te wakker. Hoewel dit ’n basiese behoefte is, word dit nie meer in vandag se gejaagde lewe uitgeleef nie.

Aan die begin van 2023 het Ons Karoo en Kontrei kunstenaars in die Karoo en omliggende platteland gevra om ’n kunswerk met die tema “Kameraadskap” te skep. Foto’s van dié kunswerke is daarna op ’n webwerf gelaai en die publiek kon vir die topkunswerke stem wat Ons Karoo en Kontrei op toer geneem het om die praktiese deel van kameraadskap uit te leef. Die kunswerke is by ses verskillende feeste uitgestal. Dit is iets wat een kunstenaar beswaarlik op sy eie kon doen, maar as ons saam werk kan ons groter projekte van die grond af kry.

Deel van hierdie projek was om geld in te samel vir ons droogtehulp-inisiatief. Hierdie inisiatief is so bietjie anders as die standaard-droogtehulpprojekte. Sekere dinge moet nog in plek val, en dit neem tyd. Ons werk steeds daaraan en gaan die kunstenaars wat by die Kameraadskap-kunsprojek betrokke was, weer nader wanneer die res van die plan in werking tree, wat volgens beplanning in 2024 sal wees.

Dankie aan elke kunstenaar wat aan die Kameraadskap-kunsprojek deelgeneem het. Dit was ’n voorreg om jul kunswerke so wyd uit te stal.