Blackstone Kragstasie
Willowmore het van 1938 tot 1984 hul krag van diesel krag opwekkers gekry. Daar was aanvanklik net drie kragopwekkers maar in die 1950’s is ses Blackstone kragopwekkers bygevoeg. Hulle het per skip van Engeland af gekom en toe per trein na Willowmore vervoer. Hierdie masjiene, verpak in houtkratte, was baie groot en daar was geen huiskrane wat kon help met die verplasing van die swaar masjiene nie.
Op daardie stadium was Danie de Wet die algemene werk voorman van Willowmore Munisipaliteit en hy moes ’n plan beraam om die groot masjiene in hul plek te kry.
Hulle het die westelike muur van die oorspronklike gebou uitgebreek vir die aanbouing van die area waar die Blackstone kragopwekkers moet staan. Op die perseel was ’n diep gat gegrawe met ’n skuinste aan die een kant. By hierdie skuinste moes die trok wat die kratte vervoer het van die treinstasie af versigtig inry. Die kratte kon dan van die trok af beweeg word en met die hulp van ysterpale wat as rollers gebruik was pm die kratte te kry waar hulle in die gebou moes staan. Danie se plan het goed gewerk en hulle kon al die swaar kragopwekkers op hul plekke kry.
Vir baie jare was die diesel wat die kragopwekkers gebruik het in 44-gelling metaal dromme na Willowmore vervoer. Die masjiene was dors, met die grotes wat omtrent 5 liter in 15min gebruik. Later was groot metaal stoordromme op die terein opgerig en met die dieseltrokke opgevul deur van pype gebruik te maak.
Van die kragopwekkers werk vandag nog maar dit is uiters duur om hulle te laat loop met vandag se diesel pryse.
Die Blackstone Kragstasie kan besoek word. Die sleutel kan opgetel word by Zaayman Engen stasie se kiosk.
Bronne:
- The Cape Journal: Willowmore, Westby Nunn Publishers (2009)
- https://finchleyfarm.co.za/about-willowmore/